Voorlopige kriteria vir wie en wat die leksikograaf is
Samenvatting
Daar is verbasend min sistematiese akademiese ondersoek na wie presies leksikograwe is. Rufus Gouws wys hierdie problematiek reeds 'n dekade gelede uit. Gouws (2012) ondersoek nie net die aktiwiteite wat verband hou met Leksikografie nie, maar vra krities watter rolle die persone speel wat binne hierdie vakgebied bedrywig is. Gouws (ibid.) se bespreking lei af dat dit nodig is om ondubbelsinnige kriteria te ontwikkel vir wie 'n leksikograaf genoem kan word. Om hierdie kriteria te help ontwikkel, neem hierdie artikel die werk van Gouws onder die loep in die vorm van 'n gevallestudie met 'n onderliggende tematiese analise. Gouws se eie bydrae op metaleksikografiese vlak, maar ook tot die leksikografiese praktyk en leksikografie-opleiding, spreek vanself in terme van produktiwiteit, kundigheid en relevansie. Die gevallestudie behels 'n literatuuroorsig oor Gouws se navorsingsartikels uit die afgelope 10 jaar sedert die verskyning van die genoemde 2012-artikel. Die artikels is tematies ontleed en 'n stel rolle word afgelei wat algemeen blyk uit hierdie leksikografiese publikasies. Hierdie rolle of aktiwiteite word indringend bespreek, en uit die bespreking word uiteindelik 'n voorlopige stel kriteria afgelei vir wie 'n leksikograaf genoem kan word. Sleutelwoorde: leksikograaf, metaleksikograaf, woordeboekmaker, pedagoog, taalkundige, taalburgerskap, aktivisme
Gepubliceerd
2023-12-14
Citeerhulp
Swart, M., & du Plessis, A. H. (2023). Voorlopige kriteria vir wie en wat die leksikograaf is. Lexikos, 33(2), 1-21. https://doi.org/10.5788/33-2-1834
Sectie
Artikels/Articles
Outeursreg op alle materiaal wat in Lexikos gepubliseer is, berus by die Direksie van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Dit staan skrywers egter vry om hulle materiaal elders te gebruik mits Lexikos (AFRILEX-reeks) erken word as die oorspronklike publikasiebron.