Aspekte van inligtingsonttrekkingstrukture in aanlyn woordeboeke
Résumé
In gedrukte woordeboeke met 'n statiese artikel- en boekstruktuur is die verhouding tussen die verspreiding van data en die onttrekking van inligting eenvoudig en die meeste woordeboeke volg min of meer dieselfde ordeningstelsels. Aanlyn woordeboeke vertoon dinamiese strukture met data wat dikwels op verskillende vlakke en in verskillende vakke aangebied word. Dit dwing die gebruiker om afwaarts (of vertikaal) en sywaarts (of horisontaal) in 'n artikel of bepaalde artikelkommentare te beweeg en om soekprosedures te volg wat nuwe strukture soos uitgebreide kommentare en selfs nuwe soekposisies soos soektonnels in ag moet neem. Dit is uiters belangrik dat gebruikers bewus moet wees van die volle spektrum data in 'n leksikografiese produk en dat hulle daartoe in staat moet wees om die datatipe wat vir hulle ter sake is, te kan kies. Gebruikers van leksikografiese produkte het ondersteuning nodig om 'n optimale onttrekking van inligting te verseker. Gevolglik moet leksikograwe moeite doen om 'n inligtingsonttrekkingstruktuur te skep wat gebruikers kan help om suksesvolle woordeboekraadpleging te verseker. Dit kan verfyning van die databasisstruktuur van die woordeboek vereis, en die ontwikkeling van 'n gevorderde koppelvlakontwerp wat nuwe kenmerke en navigasie-opsies aan die gebruiker beskikbaar kan stel. Dit beklemtoon weer eens die noodsaaklikheid van 'n multidissiplinêre span in die ontwikkeling van 'n woordeboek om 'n geskikte finale produk aan die gebruiker te kan bied. Hierdie artikel bied voorstelle vir gestruktureerde en kitstoegang tot data en die gebruik van datamerkers om gebruikers te lei na aanduiders in komplekse woordeboekartikels. Die klem is ook op die gebruikersvriendelikheid van leksikografiese instrumente wat die gehalte van intuïtiewe woordeboekgebruik kan verbeter. Sleutelwoorde: aanlyn woordeboeke, artikelstruktuur, beperkte artikel, inligtingsonttrekkingstruktuur, kontekstualisering, omvattende artikel, semantiese subkommentaar, skakeling, soeksone, soektonnel, vakke, vlakkeCopyright of all material published in Lexikos will be vested in the Board of Directors of the Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Authors are free, however, to use their material elsewhere provided that Lexikos (AFRILEX Series) is acknowledged as the original publication source.
Creative Commons License CC BY 4.0