Kategorisering van voorbeeldsinne in woordeboeke vir navorsingsdoeleindes.

  • Lorna Hiles Cape Town, South Africa
Trefwoorden: voorbeeldsinne, toeligtende voorbeelde, skoolwoordeboeke, tabel van kategorieë

Samenvatting

Voorbeelde in woordeboeke verskyn in baie verskillende vorme. Hulle kan sinne of frases wees. Hulle kan korpusgebaseer of deur die leksikograaf geskep wees. Hulle kan die lemma in sy onverboë vorm bevat of hulle kan 'n verbuiging van die lemma bevat. In sommige woordeboeke is die funksie van voorbeelde om kontekstuele steun vir die betekenis van die trefwoord te verskaf, in ander is die grammatiese steun wat hulle verskaf, belangriker. Terwyl daar literatuur oor die nuttigheid van voorbeelde bestaan, en of voorbeelde korpusgebaseer moet wees of nie, bestaan daar baie min oor wat een voorbeeld nuttiger maak as 'n ander. Ek het begin om uit te vind watter soort voorbeelde Suid-Afrikaanse skoolgebruikers aanwys as die nuttigste. In hierdie artikel kyk ek of voorbeelde in vyf Suid-Afrikaanse skoolwoordeboeke wel geskikte kontekstuele of grammatiese steun verskaf. Ek het 'n tabel opgestel om voorbeeldsinne volgens verskillende maatstawwe te klassifiseer. Ek het hierdie tabel voltooi met lukraak gekose woorde en hul voorbeelde wat uit vyf verskillende Suid-Afrikaanse skoolwoordeboeke geneem is. Die doel van hierdie navorsing is om eienskappe van voorbeelde op 'n manier aan te bied wat dit makliker maak om hulle te ontleed en te vergelyk. Dit behoort leksikograwe in toekomstige woordeboeke te help om te kontroleer of hulle die bes moontlike voorbeelde geskryf of gekies het vir hul gebruikers se behoeftes. 
Gepubliceerd
2012-01-23
Citeerhulp
Hiles, L. (2012). Kategorisering van voorbeeldsinne in woordeboeke vir navorsingsdoeleindes. Lexikos, 21(1). https://doi.org/10.5788/21-1-46
Sectie
Lexikonotas/Lexiconotes