Laat ons boeke vat. Illustrasie van die nut van 'n leesprogram in 'n era van korpusleksikografie met aanbevelings vir die <i>Woordeboek van die Afrikaanse Taal</i>

  • Jana Luther Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, Stellenbosch, Suid-Afrika

Samenvatting

Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), 'n omvattende sinchroniese woordeboek waarvan die eerste deel in 1951 verskyn, stel hom ten doel om die woordeskat van Afrikaans in sy wydste omvang, van vandag tot sowat honderd jaar gelede, te bewerk. Nes soortgelyke woordeboeke van ander tale is die WAT vir sy totstandkoming in hoë mate afhanklik van poëme en sitate wat gewone taalgebruikers in die laaste dekades van die vorige millennium per gewone pos na die woordeboek gestuur het. Vir byna elke trefwoord van U tot Z, wat nog gedefinieer en toegelig moet word, bly hierdie versameling van sowat 4,5 miljoen handgeskrewe en getikte kaartjies die beginpunt. Maar sedert die koms van die rekenaar, in die 1980's, het nuwe tegnologieë die maniere waarop woordeboekmakers werk, ingrypend verander. In die era van korpusleksikografie word kaartversamelings stelselmatig aangevul deur elektroniese korpusse van werklike taalgebruik waarin woorde onmiddellik en op verskillende maniere gesorteer en ondersoek word. Hoe groter, omvattender en gebalanseerder die korpus, hoe minder hoef redakteurs op persoonlike indrukke terug te val. Tog het van die WAT se eweknieë, soos die (veel groter) Oxford English Dictionary (OED), in dié tyd van aanlyn teksversamelings ou leesprogramme voortgesit en selfs etlike nuwes begin. Groot korpusse bevat dikwels teks uit koerante, tydskrifte, romans en dergelike, waarin die hedendaagse, algemene, geskrewe variëteit van die taal die botoon voer en ander variëteite (streektaal, vaktaal, geselstaal, woorde en uitdrukkings van vorige geslagte) minder goed verteenwoordig is. Deur vir vrywillige en betaalde lesers spesifieke tekste te kies, probeer leesprogrambestuurders dié leemtes aanvul. Deur 'n semi-outomatiese ontleding van een so 'n uitgesoekte teks, die roman Draaijakkals (1999) deur George Weideman, illustreer hierdie artikel, met aanbevelings ten slotte, hoe 'n leesprogram in 'n hersieningsfase tot nuwe en bygewerkte artikels in die WAT kan bydra. Sleutelwoorde: omvattende woordeboek, sinchroniese woordeboek, leesprogram, lesers, teksontleding, teksontledingsagteware, nuwe materiaal, ekserpering, woorde, spelling, wisselvorme, woordsoorte, uitdrukkings, betekenis, gebruik, sitate, datering

Biografie auteur

Jana Luther, Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, Stellenbosch, Suid-Afrika
   
Gepubliceerd
2022-12-07
Citeerhulp
Luther, J. (2022). Laat ons boeke vat. Illustrasie van die nut van ’n leesprogram in ’n era van korpusleksikografie met aanbevelings vir die <i>Woordeboek van die Afrikaanse Taal</i&gt;. Lexikos, 32(3), 144-165. https://doi.org/10.5788/32-3-1735