'n Evaluasie van Pharos Aanleerderwoordeboek vir skole/Learner's Dictionary for Schools en Longman-HAT Afrikaans Dictionary and Grammar for English Speakers in 'n Afrikaanse taalverwerwingskursus op universiteitsvlak

  • Dané Claassen Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit Stellenbosch, Stellenbosch, Suid-Afrika

Samenvatting

Navorsing toon dat 'n goed gekose woordeboek, naas die opvoeder, 'n belangrike hulpmiddel is om die taalverwerwingsproses te verryk. Daar bestaan tans nie 'n eentalige of tweetalige aanleerderwoordeboek wat spesifiek gerig is op nultaalsprekers wat Afrikaans op tersiêre vlak aanleer nie. Taalverwerwingsdosente en taalfasiliteerders moet dus die gaping ten beste probeer vul deur aanleerderwoordeboeke soos Pharos se Aanleerderwoordeboek vir skole/Learner's Dictionary for Schools en Longman-HAT se Afrikaans Dictionary and Grammar for English Speakers vir hierdie aanleerders voor te skryf. In hierdie artikel word dié twee aanleerderwoordeboeke empiries en kwalitatief geëvalueer ten einde vas te stel of daar wel ruimte is vir die samestelling van 'n aanleerderwoordeboek wat spesifiek gerig is op nultaalsprekers wat Afrikaans aanleer op 'n universiteitsvlak. Hierdie spesifieke twee woordeboeke word geëvalueer omdat dit onderskeidelik voorgeskryf word vir nultaalsprekers by die Universiteit van Stellenbosch en die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit. Die mate waarin 'n spesifieke woordeboek voldoen aan die bevrediging van 'n sekere teikengroep se leksikografiese behoeftes word nie slegs deur die leksikograaf bepaal nie, maar ook deur die teikengebruiker. Die huidige woordeboekkultuur, soos geformuleer in die Nasionale Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (NKAV) wat tans in die Suid-Afrikaanse skoolsisteem gevolg word, word onder die vergrootglas geplaas. Op grond hiervan word voorstelle vir formele woordeboekonderrig op universiteitsvlak gemaak, wat beide algemene en spesifieke woordeboekonderrig insluit.
Gepubliceerd
2015-11-19
Citeerhulp
Claassen, D. (2015). ’n Evaluasie van Pharos Aanleerderwoordeboek vir skole/Learner’s Dictionary for Schools en Longman-HAT Afrikaans Dictionary and Grammar for English Speakers in ’n Afrikaanse taalverwerwingskursus op universiteitsvlak. Lexikos, 25(1). https://doi.org/10.5788/25-1-1290
Sectie
Artikels/Articles