Die leksikografiese hantering van neo-klassieke en pseudo-sintaktiese komposita

  • A.E. van Niekerk Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal
Trefwoorden: leksikografie, neo-klassieke komposita, pseudo-sintaktiese komposita, subleksikale lemmas

Samenvatting

Die inkonsekwente hantering van neo-klassieke en pseudo-sintaktiese komposita in bestaande woordeboeke kan veral toegeskryf word aan onsekerheid oor die morfologiese status van die genoemde woordvormingsprodukte en die negering van hul kompositumstatus. Neo-klassieke komposita bestaan uit die kombinasie van 'n (gewoonlik) Griekse of Latynse woordelement met 'n ander element (affiks of stam). Die Griekse of Latynse elemente funksioneer soos affikse, maar hul kombineerbaarheid met affikse om woorde te vorm, bring hul affiksstatus in die gedrang. Hierdie elemente verskil boonop morfologies en semanties dusdanig van affikse dat daar na hulle as neo-klassieke stamme verwys kan word. Die leksikografiese hantering van die Griekse en Latynse woordelemente --- dit kan begin- of eindkomponente wees --- is tot dusver nie op 'n suiwer linguistiese grondslag geplaas nie. Die tendens om in woordeboeke soos die <i>Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal</i> (HAT) en <i>Nasionale Woordeboek</i> (NW) groter leksikografiese prominensie aan eerste stamme bo slotstamme te verleen, berus byvoorbeeld op die tradisioneel woordgebaseerde struktuur van woordeboeke. Neo-klassieke stamme behoort as subleksikale lemmas ingesluit te word en waar die genoemde subleksikale items betekenismatig verband hou met leksikale variante, moet die leksikograaf dié betekenisverhouding met behulp van duidelike kruisverwysings ekspliseer. Etimologieleiding word nie in HAT en NW by vreemde woordelemente konsekwent deurgevoer nie, maar kan 'n enkoderende waarde hê en is as sodanig waardevol vir die woordeboekgebruiker. Fonologiese leiding ten opsigte van variasie by beginkomponente of klemplasing is eweneens nuttig omdat dié inligting nie geredelik voorspelbaar is nie. Wat die hantering van subleksikale lemmas betref, moet die leksikograaf --- ongeag die status wat hy aan dié elemente wil toeken --- 'n eenvormige beskrywingspatroon handhaaf. Die leksikograaf durf nie die produktiwiteit van neo-klassieke komposita miskyk en hul insluiting of weglating na willekeur laat geskied nie. Die pseudo-sintaktiese komposita vorm as meerwoordige leksikale items 'n ortografiese en betekeniseenheid. As enkele leksikonitems kwalifiseer dusdanige komposita vir opname in die woordeboek. By die leksikografiese hantering van pseudo-sintaktiese komposita moet alle reëls wat vir gewone leksikale items geld, in aanmerking kom. Deeglike konteksleiding, weldeurdagte kruisverwysings en getalsaanduidings wat met die werklike taalgebruik strook, is onontbeerlik. Die opname van meerwoordige leksikale items moet semanties, maar ook leksikologies gemotiveer kan word. Die leksikografiese bewerking van neo-klassieke en pseudo-sintaktiese komposita vra om 'n benadering wat deur groter konsekwentheid en omsigtigheid gekenmerk word. Hieraan behoort leksikograwe in die toekoms noukeuriger aandag te skenk.  
Citeerhulp
van Niekerk, A. (1). Die leksikografiese hantering van neo-klassieke en pseudo-sintaktiese komposita. Lexikos, 1(1). https://doi.org/10.5788/1-1-1158
Sectie
Artikels/Articles