Over dit tijschrift

Focus en missie

Artikels wat handel oor alle aspekte van die leksikografie, of oor implikasies wat navorsing op aanverwante terreine, bv. die linguistiek, rekenaarwetenskap en inligtingskunde vir die leksikografie het, sal vir publikasie oorweeg word. Aritkels wat oor terminologie handel, sal ook oorweeg word, mits daar 'n leksikografies perspektief teenwoordig is. Aritkels wat nie 'n leksikografiese fokus het nie, sal nie verwerk word nie.

 

Peer review procedure

Artikels en resensieartikels word aan streng anonieme keuring deur onafhanklike akademiese vakgenote onderwerp ten einde die internasionale navorsingsgehalte daarvan te verseker.

Verschijningsfrequentie

Lexikos 34 sal 'n artikel-gebaseerde volume wees. Lexikos 34 sal dus artikel per artikel gepubliseer word, soos artikels gekeur en geset word.

Alle Lexikos 34-artikels sal soos gewoonlik saamgevat word in 'n volle volume in Oktober/November 2024.

Geschiedenis van het tijdschrift

Lexikos (Grieks vir "van of vir woorde") is 'n publikasie vir die leksikografiese vakspesialis en word sedert 1991 deur die Buro van die WAT uitgegee in die AFRILEX-reeks. AFRILEX is 'n akro­niem vir "leksikografie in of vir Afrika". Die publikasie daarvan was 'n indirekte uitvloeisel van 'n formele leksikografiese gesprek op Stellenbosch tussen die redaksie van die WAT en 'n aantal gerekende taalkundiges in 1989. Die Buro van die WAT het besef dat daar 'n groot behoefte aan die uitruil van leksikografiese kennis en ondervinding in Afrika bestaan. Dit het uit­eindelik gelei tot die totstandbrenging van Lexikos wat as vakpublikasie 'n uitstekende medium en voertuig vir leksikogafiese gesprekvoering kon wees.

Lexikos is die enigste tydskrif in Afrika wat uitsluitlik aan die leksikografie gewy word. Dit lewer 'n groot bydrae om die leksikografiese gesprek in Afrika, maar ook in die internasionale leksikografiegemeenskap te stimuleer. Dit bevat uiteenlopende bydraes van oor die wêreld heen rakende verskillende leksikografiese aspekte, teoreties sowel as prakties.

Alhoewel die eerste bydraes wat gepubliseer is slegs in Afrikaans en Engels was, het daar ook mettertyd bydraes in ander tale soos Duits, Nederlands en Frans verskyn. Aanvanklik is slegs artikels gepubliseer, maar dit is later uitgebrei om ook voorsiening te maak vir ander bydraes en kategorieë soos resensies en publikasieaankondigings. Sedert Lexikos 4 word die bydraes ook tipologies onderskei en daarvolgens onder hoofde soos Artikels, Resensie-arti­kels, Resensies, Projekte, Verslae en Leksikonotas geplaas.

In 1994 is 'n Adviesraad en Redaksionele Komitee van internasionale aansien aangestel. Die Adviesraad lewer hoofsaaklik advies aan die Redakteur en die Redaksiekomitee keur bydraes vir Lexikos ten einde die akademiese gehalte te help verseker. Vanaf die eerste nom­mer in die reeks is elke navorsingsartikel aan twee of meer vakspesialiste voorgelê vir anonieme keuring. Vanaf die vierde nommer is Lexikos deur die Departement van Onderwys as inkomstegenererende joernaal geakkrediteer wat weereens die standaard van Lexikos bevestig het.

Sedert 1996 is Lexikos die mondstuk van die African Association for Lexicography. Een van die belangrikste doel­stellings met Lexikos was steeds om 'n kommunikasiekanaal vir die nasionale en interna­sio­nale leksikografiese gesprek te skep, en om in die besonder die leksikografie in Afrika met sy ryk taalverskeidenheid te dien.

Die eerste redakteur van Lexikos was mnr. Pieter Harteveld. Hy het 'n groot bydrae tot die tot­standbrenging en uitbouing van Lexikos gelewer. Die wetenskaplike standaard en die toe­paslikheid van die navorsingsbydraes was vir hom van wesentlike belang. Mnr. Harteveld was die redakteur van die eerste vyf uitgawes van hierdie publikasie. Ná sy afsterwe het dr. D.J. van Schalkwyk waargeneem as redakteur vir Lexikos 5. Daarna het dr. J.C.M.D. du Plessis die taak oorgeneem en was hy redakteur tot en met Lexikos 20. Vir Lexikos 23 het hy weer ingestaan as redakteur aangesien die aangewese redakteur weens werksdruk nie daardie jaar beskikbaar was nie. Onder dr. Du Plessis se leiding is Lexikos se plek en status as vak­tydskrif op internasionale vlak bevestig en versterk. Hy het alles in sy vermoë gedoen om 'n ware kultuur van wetenskaplike verslaggewing oor leksikografie in Afrika te help vestig. Hy het ook leiding gegee aan nuwelinge deur hulle te help met hul bydraes. Sedert 2011 word die redakteurskap op 'n roterende basis deur proff. Elsabé Taljard, Danie Prinsloo en Rufus Gouws behartig. In 2016 het dr. H.S. (Steve) Ndinga-Koumba-Binza by die redaksionele span aangesluit nadat prof. Gouws hom weens werksverpligtinge moes onttrek aan die span. Alhoe­wel die redakteurspan gesamentlik verantwoordelik is vir 'n nommer, word een lid van die span elke jaar aangewys as eindredakteur. Sedert 2020/2021 is die tydskrif deur 'n span roterende redakteurs bestuur, met een hoofredakteur en drie mede-redakteurs. Hierdie besluit is geneem om die hoofredakteur se werkslading te versprei en sodat enigeen van die redakteurs die tydskrif op enige gegewe oomblik kan bestuur. prof. Taljard, prof. Dion Nkomo en dr. Ndinga-Koumba-Binza was die eerste span redakteurs wat onder hierdie nuwe beleid ingestel is. In 2021 het mnr. André du Plessis (geen verwantskap aan dr. J.C.M.D. du Plessis nie), by Lexikos aangesluit. Die suksesvolle publisering van Lexikos 31 (red. prof. Taljard) en Lexikos 32 (red. prof. Nkomo), het bewys dat hierdie nuwe stelsel kan werk. Mr. Du Plessis is die geleentheid gegun om in 2023 en 2024 as hoofredakteur op te tree.

Lexikos verskyn jaarliks en die eerste sewe-en-twintig volumes is reeds gepubliseer. Buiten op die webblad http://lexikos.journals.ac.za/, is Lexikos ook elektronies beskikbaar by Sabinet, AJOL, Ebsco en Proquest.

Sedert 2009 is Lexikos 'n geïndekseerde tydskrif waarvoor 'n impakfaktor bereken word in die kategorie Linguistiek. Die impakfaktor van Lexikos as Linguistiektydskrif was in 2017 hoër as die gemiddeld onder joernale in die geesteswetenskappe wat buite die Westerse wêreld gepu­bliseer word. Dit bewys dat Lexikos as een van die toonaangewende leksikografiese joer­nale in die wêreld beskou word.

Die publikasie van die gedrukte weergawes van Lexikos is o.a. moontlik gemaak deur 'n ruim skenking van die L.W. Hiemstra-Trust. Hierdie trust is opgerig deur Riekie Hiemstra ter herin­nering aan Ludwig Wybren (Louis) Hiemstra. Vanaf 2018 sal Lexikos slegs in elektroniese formaat gepubliseer word.