Ostensiewe adressering in vertalende woordeboeke

  • R.H. Gouws Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit van Stellenbosch, Suid-Afrika

Résumé

Vanuit 'n semantiese perspektief is die aangawe van vertaalekwivalente die belangrikste komponent van die leksikografiese bewerking in vertalende woordeboeke. Die semantiese bestek van lemma en vertaalekwivalent oorvleuel selde volledig. Gevolglik moet die leksikograaf aanvullende inskrywings voorsien om kommunikatiewe ekwivalensie tussen bron- en doeltaal te bereik. Die behoefte aan hierdie soort inskrywings is veral akuut in gevalle van 'n ekwivalentverhouding van semantiese divergensie. Die polisemie van die lemma lei hier tot die opname van verskillende vertaalekwivalente vir elk van die polisemiese onderskeidinge van die lemma. Om die gebruiker te help met die korrekte keuse van 'n vertaalekwivalent is dit belangrik dat konteksaanduidende inligting verskaf word. Illustrasieprente is 'n tipe mikrostruktuurelement wat gebruik kan word om semantiese vereenduidiging te bewerk. Dié ostensiewe adressering word tans nie in die Afrikaanse vertalende leksikografie benut nie. In teenstelling met die siening wat wyd gehuldig word dat illustrasieprente slegs ensiklopediese waarde het, wys hierdie artikel op die leksikografiese funksionaliteit en wye toepassingswaarde daarvan. Alhoewel ostensiewe adressering veral van waarde is om betekenisdifferensiasie by semantiese divergensie te bewerk, het dit ook 'n leidinggewende waarde in die artikels van lemmas met 'n lae graad van vertaalbaarheid. Die eksplisietheid wat deur illustrasieprente bewerk word, bevorder 'n beter ontsluiting van die aangebode inligting. Dit geld sowel vertalende as verklarende woordeboeke. <b>Sleutelwoorde:</b> adressering, betekenisdifferensiasie, betekenisoordrag, divergensie, ekwivalentverhoudinge, ensiklopediese inligting, illustrasieprente, inligtingsoordrag, kommunikatiewe ekwivalensie, kontekstuele inligting, konvergensie, leksikografie, ostensiewe adressering, polisemie, pragmatiese inligting, surrogaatekwivalent, vertaalbaarheid, vertalende woordeboek
Comment citer
Gouws, R. (1). Ostensiewe adressering in vertalende woordeboeke. Lexikos, 4(1). https://doi.org/10.5788/4-1-1076
Rubrique
Navorsingsartikels / Research Articles