Visuele elemente in vertalende woordeboeke gerig op die grondslagfase teen die agtergrond van geletterdheidsontwikkeling

  • Michele F. van der Merwe Departement Kurrikulumstudie: Afrikaans, Fakulteit Opvoedkunde, Universiteit Stellenbosch, Stellenbosch

Abstract

Woordeboeke wat in 'n onderrig- en leersituasie gebruik word, het ongetwyfeld 'n opvoedkundige doel en funksie (as 'n leksikografiese funksie volgens die teorie van leksikografiese funksies verstaan word), byvoorbeeld die aktiewe ontwikkeling van geletterdheidsvaardighede. In die geval van woordeboeke gemik op leerders in die grondslagfase is teikengebruikers leerders wat oor ontluikende geletterdheidsvaardighede en veral ontwikkelende leesvaardighede beskik. Ten einde hierdie ontluikende vaardighede van die teikengebruiker te ondersteun, kan leksikograwe 'n verskeidenheid meganismes gebruik, byvoorbeeld visuele elemente, om ondersteuning aan die teikengebruikers te verleen. In hierdie studie word vier vertalende woordeboeke ondersoek, waarin Afrikaans telkens as een lid van die taalaanbod funksioneer. Leerders in die grondslagfase vorm die teikengebruikers van die bepaalde kategorie woordeboeke en daarom is die artikel binne die leksikografiese teorie van die gebruikersperspektief gesitueer, maar terselfdertyd ook binne die veld van die opvoedkundige leksikografie. In hierdie artikel word daar dus ook na konsepte binne leesnavorsing, taalverwerwing en tweedetaalonderrig verwys, wat dan op die visuele elemente in hierdie woordeboeke toegepas word. Die gebruik, waarde en tipes illustrasies in woordeboeke word deur middel van 'n literatuurstudie ondersoek en toepassing vind binne die geletterdheidskonteks van die teikengebruiker plaas. Die gebruik van visuele elemente in ooreenstemming met die geletterdheidsbehoeftes van die teikengebruikers vorm die fokus van die artikel. Sleutelwoorde: gebruikersperspektief, geletterdheidskonteks, kognitiewe- akademiese taalvaardigheid, kontekstualisering, meertaligheid, opvoedkundige leksikografie, taalvaardigheid, vertalende woordeboeke, woordeboekillustrasies
Veröffentlicht
2022-12-07
Zitationsvorschlag
van der Merwe, M. F. (2022). Visuele elemente in vertalende woordeboeke gerig op die grondslagfase teen die agtergrond van geletterdheidsontwikkeling. Lexikos, 32(3), 215-248. https://doi.org/10.5788/32-3-1738