Die leksikografiese hantering van woordgroepstamme

  • R.H. Gouws Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit van Stellenbosch

Abstract

Die leksikon van Afrikaans bestaan uit 'n verskeidenheid leksikale items wat in Afrikaanse woordeboeke opgeneem moet word as leksikale, subleksikale en multileksikale lemmas. Hierdie artikel bespreek die behandeling van subleksikale lemmas en plaas die klem op een subtipe, te wete die woordgroepstamme van samestellende samestellings en samestellende afleidings. Hierdie stamme verteenwoordig telkens 'n optredevariant van 'n leksikale item wat buite die betrokke gelede woord as woordgroep funksioneer. Afrikaanse woordeboeke bied nog nie 'n behandeling van woordgroepstamme nie. Daar is verskeie faktore wat die insluiting van woordgroepstamme beperk. Alhoewel hierdie stamme nie dikwels 'n semantiese pluswaarde het nie, word dit aangetoon dat hulle potensiële opname volgens metaleksikografiese en taalkundige beginsels gemotiveer kan word. Deur op die geldende kriteria vir die opname van subleksikale lemmas te let, word aangevoer dat woordgroepstamme as leksikale items uit eie reg en gevolglik as potensiële lemmas beskou moet word. Die nie-opname van hierdie tipe leksikale item as 'n meerwoordige subleksikale lemma in Afrikaanse woordeboeke spruit uit 'n woordpartydigheid wat die makrostrukturele keuse domineer. Dit beperk die opname van sowel multileksikale as subleksikale lemmas. Voorstelle word in hierdie artikel aan die hand gedoen om die leksikografiese bewerking van woordgroepstamme op 'n taalkundig bevredigende manier aan te bied. Alhoewel die voorstelle in hierdie artikel vanuit 'n teoretiese perspektief gedoen word, is hulle primêr daarop gerig om die Afrikaanse leksikografiese praktyk tot voordeel te strek. Die implikasies van die voorstelle en bespreking is nie net van leksikografiese belang nie maar is ook ter sake vir die teoretiese taalkundige. 'n Nuwe siening van die verskeidenheid binne die leksikon word aan die orde gestel. Dit beklemtoon nogmaals die belang daarvan dat daar 'n wisselwerking tussen taalteorie en leksikografiese praktyk moet wees. So 'n wisselwerking strek sowel leksikograaf as die taalkundige ten goede.  
Zitationsvorschlag
Gouws, R. (1). Die leksikografiese hantering van woordgroepstamme. Lexikos, 1(1). https://doi.org/10.5788/1-1-1152
Rubrik
Artikels/Articles