Normatiewe leiding in woordeboeke: 'n nuwe benadering

  • R.H. Gouws Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit van Stellenbosch, Suid-Afrika

Abstract

In 'n meertalige situasie lei taalkontak tot taalbeïnvloeding. Taalbeïnvloeding raak verskillende registers van 'n taal. Afrikaans se standaardvariëteit word grootliks beïnvloed deur die voortdurende kontak met Engels. In hulle bewerking van die leksikon van 'n taal moet woordeboeke 'n weerspieëling bied van die taalwerklikheid. Die gevolge van taalbeïnvloeding moet leksikografiese vergestalting kry. Verklarende en vertalende handwoordeboeke van Afrikaans asook beperkte normatiewe woordeboeke het tradisioneel 'n streng preskriptiewe benadering gevolg en gepoog om 'n puristiese weergawe van die standaardtaal aan te bied. Dit het gelei tot 'n verskraling van die bestek van hierdie woordeboeke. In hierdie artikel word aandag gegee aan die tradisionele benadering as agtergrond vir 'n bespreking van 'n innoverende leksikografiese behandeling van taalverandering. Die normatiewe woordeboek Die korrekte woord word gebruik ter illustrasie van die nuwe benadering. Hierdie woordeboek se vernuwende bydrae is veral ter sake in sy hantering van leenwoorde uit Engels. Sonder om sy normatiewe funksie te versaak, doen die woordeboek verslag van die geldende taaldinamika. Hierdie leksikografiese behandeling spruit uit 'n ruim interpretasie van die begrip "Standaardafrikaans". Die toepassing hiervan lei tot 'n lemmakeuse wat verteenwoordigend is van die werklike standaardvariëteit van Afrikaans. Die beginsels waarvolgens die nuwe benadering werk, word bespreek asook die implikasies wat dit vir die normatiewe leksikografie het.  
Zitationsvorschlag
Gouws, R. (1). Normatiewe leiding in woordeboeke: ’n nuwe benadering. Lexikos, 3(1). https://doi.org/10.5788/3-1-1100
Rubrik
Artikels/Articles