Pedagogiese leksikografie: Op weg na 'n nuwe en streng tipologie wat ooreenstem met die huidige gebruik daarvan.

  • Sven Tarp Department of Afrikaans and Dutch, University of Stellenbosch, South Africa, and Centre for Lexicography, Aarhus School of Business and Social Sciences, University of Aarhus, Denmark
Trefwoorden: pedagogiese leksikografie, pedagogiese woordeboeke, aanleerdersleksikografie, aanleerderswoordeboeke, skoolwoordeboeke, kinderwoordeboeke, handwoordeboeke, woordeboeke vir vreemdetaalaanleerders, woordeboeke vir moedertaalleerders, woordeboeke vir leerder

Samenvatting

'n Algemene en bekende probleem binne die leksikografie is die gebruik van verskeie terme om na 'n enkele verskynsel te verwys, sowel as die gebruik van 'n enkele term om na verskeie, heeltemal verskillende verskynsels te verwys. So 'n niesistematiese terminologie kan tot verwarring binne die vakgebied lei en kan die teoretiese en praktiese ontwikkeling daarvan belemmer. Die probleem is besonder ernstig binne die sogenaamde pedagogiese leksikografie. 'n Kort, wye oorsig toon dat veral die terme "pedagogiese leksikografie/woordeboeke", "didaktiese leksikografie/woordeboeke", "skoolwoordeboeke" en "aanleerderswoordeboeke" gebruik word in baie verskillende betekenisse wat van outeur tot outeur, land tot land, en kultuur tot kultuur verskil. Alhoewel daar allermins van uitgewers verwag kan word om 'n streng terminologie ten opsigte van hulle produkte te gebruik, behoort dit tog van die teoretiese leksikografie verwag te kan word. Om die huidige verwarring te oorkom, is dit dus dringend noodsaaklik om 'n tipologie te vestig wat gebruik kan word deur vakkundiges wat teoreties omgaan met die subveld pedagogiese leksikografie. Hierdie artikel sal eerstens die groot verskeidenheid betekenisse aantoon wat aan die verskillende terme toegeskryf word wat in die teoretiese literatuur voorkom. Daarna sal die probleem van twee verskillende kante benader word: 1) die vestiging van 'n duidelike definisie vir die terme "pedagogies", "didakties", "skool-" en "aanleerder-" vanuit 'n leksikografiese perspektief, en 2) die verwysing na die bestaande praktyk waar die terme dikwels in 'n baie breër sin as in die teoretiese literatuur gebruik word. Gebaseer op hierdie oorwegings word 'n nuwe en streng tipologie wat ooreenstem met die huidige gebruik in die pedagogiese leksikografie voorgestel.Sleutelwoorde: pedagogiese leksikografie; pedagogiese woordeboeke; aanleerdersleksikografie; aanleerderswoordeboeke; skoolwoordeboeke; kinderwoordeboeke; handwoordeboeke; woordeboeke vir vreemdetaalaanleerders; woordeboeke vir moedertaalleerders; woordeboeke vir leerders van wetenskaplike dissiplines
Gepubliceerd
2012-01-19
Citeerhulp
Tarp, S. (2012). Pedagogiese leksikografie: Op weg na ’n nuwe en streng tipologie wat ooreenstem met die huidige gebruik daarvan. Lexikos, 21(1). https://doi.org/10.5788/21-1-44
Sectie
Artikels/Articles