Multivergensie: 'n Netwerk van ekwivalensieverhoudinge

  • Christelle Trautmann Hoërskool Duineveld, Upington, Suid-Afrika

Abstract

In 'n vertalende woordeboek word brontaalitems as lemmas opgeneem en daar word vertaalekwivalente vir die brontaalitems verskaf. Vanweë hierdie leksikografiese hanteringswyse van leksikale items, geld daar verskeie tipes ekwivalensieverhoudinge tussen die bron- en die doeltaalitems. Multivergensie is 'n tipe ekwivalensieverhouding wat uiters frekwent in vertalende woordeboeke voorkom. Dit is die gevolg van die semantiese gestruktureerdheid van tale. In leketaal is multivergensie 'n kombinasie van divergensie en konvergensie. Vanweë hierdie aard van multivergensie as ekwivalensieverhouding word sowel divergensie as konvergensie bespreek. Aspekte soos leksikale en semantiese divergensie en konvergensie geniet aandag. Die volgende tipes multivergensie word onderskei: (i)   leksikale divergensie en leksikale konvergensie (ii)  leksikale divergensie en semantiese konvergensie (iii) semantiese divergensie en leksikale konvergensie (iv)  semantiese divergensie en semantiese konvergensie In die bespreking word die klem verder geplaas op kommunikatiewe ekwivalensie en die aard van sinonimie. Intratalige en intertalige semantiese relasies word ook bespreek. Die praktiserende leksikograaf wat kennis dra van hierdie relasies sal die woordeboekgebruiker deur 'n gebruikersvriendelike hanteringswyse van items bewus maak van die doeltaalitems wat as vertaalekwivalente van 'n brontaalitem gebruik kan word. Indien daar byvoorbeeld ook deur 'n verwysing 'n aanduiding van konvergensie verskaf word, kan die gebruiker aflei watter brontaalitems semanties verwant is en met 'n enkele vertaalekwivalent gekoördineer kan word. Die uiteensetting van ekwivalensieverhoudinge vestig verder die leksikograaf se aandag op 'n volledige leksikografiese bewerking van leksikale items. Sodoende word daar erkenning gegee aan 'n netwerk van ekwivalensieverhoudinge. <b>Sleutelwoorde:</b> kommunikatiewe ekwivalensie, konnotasie, denotasie, woordeboek, ekwivalensieverhouding, leksikale konvergensie, leksikale divergensie, leksikograaf, multivergensie, doeltaalsinoniemparadigma, semantiese konvergensie, semantiese divergensie, brontaalitem, sinonimie, doeltaalitem
Zitationsvorschlag
Trautmann, C. (1). Multivergensie: ’n Netwerk van ekwivalensieverhoudinge. Lexikos, 4(1). https://doi.org/10.5788/4-1-1079
Rubrik
Navorsingsartikels / Research Articles